Vanwee spasie beperkinge en ‘n aantal ander kenners wat ook genader is vir kommentaar rondom die tema, kon Huisgenoot nie Vita Nova se volledige antwoorde op al die vrae publiseer nie.
Hierdie is ‘n tema waaroor ek baie passievol is, so ek het dit goed gedink om die volledige antwoorde ook te publiseer.
1. Hoekom dink jy voel vroue so verskillend oor die idee van huisvrou wees. Het dit te doen met feit dat mense verskillend voel in verskillende fases in hulle lewe?
Verskillende fases kan verseker ‘n rol speel, maar ek dink ‘n mens se verwysingsraamwerk moet ook nie onderskat word nie. Sommige vroue wil graag vir hul kinders presies dieselfde bied as wat hulle as kinders gehad het bv ‘n ma wat tuis was en beskikbaar was of juis presies die teenoorgestelde bied as wat hulle as kinders ervaar het bv finansiele stabiliteit en sekuriteit. ‘n Mens se idee van die rol wat ‘n ma “veronderstel is” om te vertolk vorm tog die basis van hoe ‘n mens huisvrou teenoor beroepsvrou sien. Dan is daar ook vrouens wat graag soos hul ma’s wil wees of gladnie soos hul ma’s wil wees nie. Dit sluit dinge soos persoonlike groei en ambisie, finansiele afhanklikheid van haar eggenoot en nog baie meer in.
2. Hoe baie het die keuse te doen met die situasie waarin jy jou bevind? Jou man het dalk sy werk verloor en julle het ’n ekstra inkomste nodig. Of jou kind is dalk met ’n leerprobleem gediagnoseer en hy het meer aandag nodig. Met ander woorde – gaan dit oor “survival” gaan en dat jy doen op die oomblik wat nodig is. Of dink jy sommige vroue besluit vroeg in hulle lewe hulle wil of n beroepsvrou of ’n huisvrou wees en dit is dan hoe hulle hul lewe inrig?
Omstandighede speel verseker ‘n rol in die keuse om of huisvrou te wees of te werk. As berader kry ek met talle gesinne te doen, waar die opsie om huisvrou te wees nie ‘n realistiese een is nie. In my praktyk is dit beslis so dat die meerderheid van gesinne afhanklik is van beide die ma en die pa om finansieel by te dra tot die huishouding.
Dan is daar ook verseker die gevalle waar ouers besluit om, terwille van ‘n kind se emosionele, fisiese en of kognitiewe behoeftes, finansieel bietjie swaarder te trek sodat ma; – of in sommige gevalle pa – tuis kan bly en die nodige tyd en aandag te kan skenk. Vir ‘n groot hoeveelheid vroue is die keuse om beroepsvrou of huisvrou te wees een wat nie noodwendig op die ingewing van die oomblik, of spessifiek in reaksie op omstandigehde gemaak word nie. Daar is verseker die gene wat al van vroegs af ‘n definitiewe voorkeur het wat hierdie aspek van hul lewens aan betref.
Voordat ons na die voordele en nadele kyk, voel ek dit is net uiters belangrik om te noem dat situasies en omstandighede van elke individu verskil. Daar is soveel bydraende faktore wat ‘n mens in ag sal moet neem en elkeen se situasie is uniek en elkeen se ervaring van haar situasie is anders. Daarom is dit nie bloot so eenvoudig om ‘n lys van voordele en nadele neer te pen en dit as ‘n gegewe te sien nie. Voordele en nadele van huisvrou of beroepsvrou kan onder andere af hang van die finansiele situasie waarin die gesin hulself bevind, die redes waarom daar besluit is om tuis te bly of dan beroepsvrou te wees, of die keuse tussen die twee inlyn is met die individu se hartsbegeertes of nie, wat die vrou se omstandighede tuis of by die werk is – het sy kinders, het sy ‘n huishulp, vriendinne, hoe sterk is haar ondersteuningsnetwerk, is haar kinders gesond. Is sy gelukkig by haar werk; geniet sy die mense saam met wie sy werk, voel sy sy word behoorlik vergoed vir dit wat sy doen, voel sy haar kinders is okay en gelukkig onder hierdie omstandighede…en die lys gaan aan en aan.
Daarom; wanneer ek voordele en nadele bespreek, hou asb ingedagte dat hierdie verseker nie ‘n “one size fits all” lys is nie!
3. Wat is die voordele van huisvrou wees?
Soos met enige situasie, hang dit grotendeels af van die spesifieke omstandighede. Indien jy as huisvrou ook ‘n voltydse huishulp het, is tyd vir jouself ‘n heerlike luukse wat nie almal het nie.
Indien jy kinders het, is die voordele van onskatbare waarde, veral vir die eerste 2.5 na 3 jaar van jou kleinding se lewe.
Die feit dat jy hulle kan tuishou het voordele rondom gesondheid; hulle word nie blootgestel aan allerhande goggas en kieme by ‘n skool of dagsorg nie.
Jy is in beheer van jou kind se daaglikse roetine, en kan die dag se plan aanpas soos nodig. Jy is daar vir elke mylpaal, die eerste woordjies, die eerst treetjies, die oulike sê goed, die arms om-jou-nek-gevou-oomblikkies – die aan die slaap sus “omdat jy vandag lus is om net ‘n bietjie langer vas te hou” – jy kan en jy mag, want dis jou keuse. Jy besluit watter tipe “input” jou kleinding ontvang.
Die emosionele koestering en aandag wat jou kind van jou af gaan ontvang, kan geen skool ooit vervang nie. Om jou kind tuis te hê help met binding en verhouding bou. Indien jou kind siek is of nie lekker voel nie, is daar darem geen beter troos as mamma naby en sy/haar eie bedjie en eie huis nie.
Indien jou kinders reeds op skool is, kan die voordele die volgende ook insluit;
Jy kan jou oggende aan jouself spandeer, jou inkopies agter die rugkry sonder dat dit tyd van jou gesin af wegneem. In die middae is jy tuis om te kan help met tuiswerk of langs die sportveld te kan sit en ondersteun; iets waaraan meeste kinders ‘n werklike behoefte het. Jou kinders se vriende en vriendinne kan na jou huis toe oorgenooi word, so jy het ‘n redelike idee van die maats met wie jou kinders meng en jy kan intree met raad en advies of leiding rondom moeilike situasies waar nodig.
Daar is geen tweifel nie – die voordele van huisvrou wees is baie.
4. Wat is die nadele van huisvrou wees?
Dit is die “ideaal” waarna soveel mammas smag, en soos bo genoem, is daar verseker voordele; veral as mens vanaf die kind se belewenis daarna kyk of die invloed van ‘n tuisbly-mamma op die kind se emosionele, fisiese, kognitiewe en sosiale ontwikkeling kyk. Al is dit so ongelooflike ‘n voorreg om dit te kan doen en al die voordele en mylpale te kan beleef, is dit soms ‘n totale ander prentjie; indien ‘n mens vir ‘n oomblik bietjie sou wegbeweeg na die ma se totale belewenis toe. Saam met die positewe is daar verseker negatiewes ook.
Om huisvrou te wees, is vir baie vroue ‘n ontsaglike ondankbare werk. Meeste huisvrou mammas is verantwoordelik vir die alledaagse huishoudelike takies ook; skoonmaak, wasgoed was, stryk, huis aan die kant maak ens.
Omdat hulle nie ‘n “werk” het nie, word hierdie take deel van hulle verpligtinge, net soos wat die “werk toe gaan” deel is van die man se verpligtinge. Maar anders as by ‘n formele beroep, is daar nie aldag positiewe terugvoer, of erkenning vir die werk wat gedoen word nie; inteendeel, baie huisvrouens voel dat dit wat hulle wel in en om die huis vermag, nie eens raakgesien word nie.
Om ‘n tuisbly mamma te wees, is in meeste gevalle ‘n vreeslike afgesonderde situasie. Ontsettend baie mammas voel verskriklik alleen. Hulle het 2 of 3 jariges vir geselskap, heeldag lank. Die tekort aan volwasse interaksie is werklik ‘n groot gemis. Hul dag bestaan uit liedjies sing, doeke omruil, kos van die vloer af opfee, sukkel om kleingoed aan die slaap te kry, huis skoonmaak, dieselfde boekie oor en oor lees, skoonmaak, kosmaak, tantrums hanteer, blokkies bou en nie ‘n oomblik vir jouself te hê nie. En more doen sy dit weer en die dag daarna en die dag daarna.
Sy voel of haar brein en haar verstand besig is om stadig maar seker agteruit te gaan, sy voel of sy nie intelligente gesprekke met mense om haar kan voer nie, ander mense het projekte en “deadlines” en interessante, stimulerende werksomstandighede, sy het wasgoed, en doeke en vloere mop. Vir ouer kinders ry sy taxi; heel middag lank. Sy is emosioneel en fisies gedaan wanneer manlief by die huiskom en al waarna sy smag is ‘n oomblik se vrede en erkenning. Baie vroue het al in huweliksberadingsessies gekla dat hul mans sal tuiskom in die aand en dan sal vra: “so, wat het jy heeldag gedoen?”
Baie mans kla weer dat hulle nog nie eens hul voete deur die deur gesit het nie, of vroulief druk ‘n skreeunede babatjie in hul arms. Hul reaksie teenoor haar is dan “ek is moeg, ek het die heeldag gewerk, kan jy my net ‘n kans gee om te ontspan?” en dit na haar hele dag gefokus was en gedraai het rondom ‘n ander persoon se behoeftes en haarself eintlik heeltemal opsy skuif.
Dis ook nie net manlief wat sulke vrae vra nie. Meeste tuisbly mammas kla dat vriendinne ook in verbasing sal vra: “wat doen jy heeldag met al jou tyd?” Die vraag maak seer en bo en behalwe dit, voel die meeste tuisbly mammas ontsettend skuldig. Hulle besef dat dit ‘n voorreg is, hulle is heeltemal bewus daarvan dat soveel werkende mamma’s wat sou wou gee om in hul skoene te kon staan, maar hulle voel nie bevoorregd nie…hulle voel afgesonder en vasgevang en hulle voel so ontsaglik skuldig hieroor wat net hul totale ervaring soveel meer negatief maak.
Daar is ook gevalle, waar tuisbly ‘n negatiewe invloed op huwelike het. Sommige tuisbly mammas voel vasgevang tussen die vier mure van hul huis. Sy kan nie wag vir haar man om tuis te kom, om net ‘n logiese volwasse gesprek met iemand te kan voer nie, maar manlief is pootuit na werk en wil nie rerig daaroor praat nie. Sy is uitgehonger vir geselskap en haar behoefte aan daardie interaksie is dus werklik groot. Hierdie disconnect veroorsaak konflik. Nog ‘n ding waarna sy vreeslik uitsien is naweke Dit is die tye wanneer manlief ook tuis is en nou wil sy graag iets lekkers gaan doen, sy wil UIT DIE HUIS UIT. Maar hy was die hele week nie by die huis nie en wil net tuis ontspan. Weereens kan hierdie verskillende behoeftes lei tot konflik.
Finansies is nog ‘n nadeel. In sommige verhoudings, voel huisvrouens dat, aangesien hulle nie finansieel bydra nie, hulle nie werlkik ‘n sê het wanneer dit by die gesin se geldsake kom nie. Daar is huisvrouens wat voel asof hul mans hulle probeer beheer deurom die finansies te beheer. Ander voel asof hulle soos kinders behandel word wat ‘n “sakgeldjie” elke maand kry en maar daarmee moet uitkom, ondanks al die werk wat hulle in en om die huis verrig. Sommige vrounes voel skuldig en minderwaardig omdat hulle nie finansieel bydra nie, selfs al doen hul mans niks opsetliks om daardie gevoel aan te wakker nie. As gevolg van hierdie skuld gevoel, sal hulle ook nie sommer maklik geld op hulself spandeer nie, omdat dit nie “werklik haar geld is nie”.
5. Wat is die voordele van beroepsvrou wees?
Die eerste, logiese voordeel van beroepsvrou wees is dat dit ‘n dubbelle inkomste huishouding is, so maw; in meeste gevalle is daar ‘n finansiele voordeel bo die van ‘n enkele inkomste huishouding.
Om beroepsvrou te wees, bied in sommig gevalle vir jou die geleentheid om ook jou eie, persoonlike drome na te jaag. Jy word uitgedaag en gestimuleer, jy kan persoonlik en korporatief groei en ontwikkel, as alles goed gaan, stagneer jy nie. Maar net soos by die voordele van huisvrou-wees genoem is, hang dit ook af van die situasie en die omstandighede waarin jy jouself bevind.
Indien ‘n mens ‘n goeie balans tussen werk en huis kan handhaaf, bied beroepsvrou wees die geleentheid om ast ware bietjie af te sluit van die huis en die gesin en bietjie op iets anders te fokus. Baie beroepsmammas erken dat tuisbly net doodeenvoudig te emosioneel en kognitief uitputtend is, en daarom die keuse om iets stimulerends aan te pak. Baie erken dat hul verseker beter mammas is, juis omdat hulle bietjie buite die huislike omstandighede kan gaan “volmaak”. Hulle kom met ‘n waardering huistoe, aangesien hulle die geleentheid kry om bietjie na hul huismense te verlang en almal nie heeldag in mekaar se geselskap vasgevang is nie. Veral mammas wat halfdag werk, voel dat hulle beste van beide werelde kan beleef. In die oggend is die fokus op persoonlike werk, in middae verskuif die fokus na die huishouding.
6. Wat is die nadele van beroepsvrou wees?
Ek bied baie keer ouerskapswerkswinkels en/of praatjies vir groepe mamma’s aan. En ek is lief daarvoor om die volgende kwyt te raak: Of ‘n mens ‘n tuisbly mamma of ‘n beroepsmamma is, die oomblik wat jy kraam is jy skuldig. Skuldig dat jy nie genoeg tyd saam met jou kinders spandeer nie, skuldig dat jy te kwaai was, of nie kwaai geneg was nie. Dat jy te hard werk, of te betrokke is…maak nie saak hoe jou dag lyk nie, ‘n mamma gaan iets kry om oor skuldig te voel. En die beroepsvrou is geen uitsondering nie.
Wanneer ‘n mens vir ‘n baas werk, is die soms moeilik om verlof te kry. So as jou kind siek is, of emosioneel nie lekker is nie, as kooroefening gekanselleer is of daar ‘n hokkie wedstryd die middag is, is daar nie altyd ‘n waarborg dat jy daar sal kan wees vir hom/haar nie.
Naskool tannies help met huiswerk, troos as dit ‘n slegte dag was, plak ‘n pleister as hy/sy seergekry het. Jy voel of jy die laaste een is wat weet wat aangaan by die skool of wat in hul dag gebuer het. Hulle word voor jou oë groot en jy voel of jy besig is om dit alles te mis; jy sien hulle tydens ontbyt end an net voor slaaptyd en alles “in between” is weg.
Omdat jy aan deadlines werk en omdat daar hoë eise aan jou gestel word, is “ek kan nie nou nie of mamma sal later” woorde wat heeltemal te gereeld uit jou mond kom.
7. Hoekom dink jy word daar dikwels so op huisvroue neergesien?
Ek dink nie daar word net op huisvroue neergesien nie. Ek dink ons beweeg in ‘n tyd, waar die teenoorgestelde ook baie waar is. Sommige huisvroue sien maar net so neer op beroepsvroue.
Sommige beroepsvroue dink/voel dalk dat huisvroue bederf is, heeldag lank tee partytjies hou, hare en naels laat doen en hul tyd met inkopies of gym toe gaan vul. Sommiges mag dalk voel dat huisvroue lui is en dat hulle verwag dat alles vir hulle gedoen moet word – “sit rond en spandeer manlief se geld” of dat hulle bussy bodys is wat oorbetrokke is en hul kinders se lewens wil micro manage. En dit terwyl hulle stoksiel alleen in hul huise sit, vasgevang tussen die vier mure.
Ek dink ook daar heers ‘n gevoel dat ‘n huisvrou dalk nie aldag so intillegent is nie; dat hulle nie anders kon as om maar tuis te bly nie – waar dit wel vir baie ‘n keuse is en daar baie vroue is wat hoogsbetaalde posisies prys gee vir die voorreg.
Sommige huisvroue sien beroepsvroue as uiters selfsugtig. Nie bereid om hul eie ambisie bietjie opsy te skuif vir hul kinders se welstand nie. Daar heers soms ‘n gevoel of gedagte dat beroepsvroue nie werklik in hul kinders belangstel nie, dat hulle onbetrokke en geldgierig is. “al die geld in die wereld maar die nanny maak die kinders groot” en dit terwyl hulle hulself aan die slaap huil van bekommernis oor hoe die volgende rekeninge betaal gaan word en of hul kinders okay is deur dit alles.
Ek werk baie met vroue, en ek het eerste handse ondervinding met hoe nasty ons maar soms met mekaar kan wees. Dit lê werklik swaar op my hart dat ons as vroue moet saamstaan. Dat ons moet ophou om mekaar sleg te maak, te kritiseer, te skinder en neer te kyk op mekaar. Elke vrou het haar eie paadjie wat sy stap, elke vrou het haar eie battles wat sy fight. Om mamma te wees is ‘n 24/7/365 werk; jy kry geen siekverlof nie en jy kry soms werklik nie die erkenning wat jy so graag net wil hoor nie. Die meeste mammas wat ek ken probeer werklik hul uiterse bes om die perfekte mammas te wees.Ten spite daarvan weet ek elkeen van ons voel soms onbevoeg, onbekwaam en onvoorbereid vir wat die lewe in ons rigting gooi; onsekerheid en tweifel en bekommernisse is aan die orde van die dag. In plaas van om dit vir mekaar nog moeiliker te maak, kom ons bemoedig liewer, kom ons bied ons hulp aan. Eerder as om sleg te praat, stap na daai mamma toe en sê vir haar “well done!” ek haal my hoed vir jou af, ek sou nie kon doen wat jy doen nie.
As ons mekaar ‘n bietjie sonlig gun en besef dat elkeen van ons bloot wandel by die bietjie lig wat ons op hierdie ouerskapspad het, mag ouerskap dalk net vir elkeen van ons ‘n tikkie makliker wees ook.
8. Indien jy wel ’n huisvrou is. Wat kan jy doen om nie skuldgevoelens te hê omdat jy nie ’n salaris inbring nie en omdat jy nie ’n loopbaan het nie? Moet jy maar net probeer om die tyd saam met jou kinders te geniet?
Ek werk gereeld met mammas; beroepsvroue, sowel as huisvroue. Die een ding wat ek graag wil hê tuisbly mammas moet hoor, weet en besef, is dat om tuis te bly en self jou kinders deur die dag te versorg, werklik een van die grootste opofferings is. Ja, jy werk nie aan ‘n loopbaan of aan ‘n beroep nie, maar jy het ‘n direkte, kardinale invloed op die volgende generasie se lewensuitkyk. Die grootste taak wat ons as ouers het, is om wel aangepasde, selfstandige en selfversekerde volwassenes die toekoms te kan instuur. Jy gaan nie jou winste in rand en sent sien nie, maar jy gaan die vrugte pluk van die tyd wat jy saam met jou kinders tuis spandeer – dit gaan begin dividende lewer, nie net op skoolgebied nie, maar ook in hul menswees – hoe hulle hul maats hanteer, hoe hul eendag hul huishoudings en gesinne gaan benader, hul eggenoot gaan hanteer, jou taak as ouer is werklik belangrik.
Ja, jy bring nie ‘n salaris in nie, maar aangesien jy tuis is, spaar jy ook jou huishouding ‘n spul geld. Huishulpe kos in meeste gevalle meer as net die maandelikse salarisse waarvoor begroot word. Kleuterskole en dagsorgsentrums kos deesdae ‘n plaas se prys. Naskole dieselfde. Daar is verseker ‘n koste besparende element ook daaraan verbonde.
Om maar net bloot te sê “geniet die tyd saam met jou kinders”, hoe waar daarde stelling okal mag wees, is werklik soms makliker gesê as gedaan.
Daarom is dit belangrik dat elke mamma ook ‘n ondersteuning sisteem het. Of dit dan ‘n ouma of ‘n vriendin is wat nou en dan bietjie kan instaan, probeer kyk na opsies wat dit vir jou gaan moontlik maak om wel so ‘n bietjie op jouself te kan fokus so af en toe. Sien jou waarde raak en vertrou dat jy besig is met onsienbare skatte bymekaar maak!
9. Wat sou mens kon doen om nie gevoelens van “nutteloosheid” te beleef nie? Is dit dalk ’n goeie idee om byvoorbeeld ’n stokperdjie te kry?
‘n Stokperdjie is ‘n goeie idee, aangesien dit bietjie kan help om die tyd om te kry, buite jou huis en jou kinders te kan fokus en vir jou iets bied om na uit te sien op ‘n gereelde basis. Maar, indien die mamma in haar hart glo dat haar rol eintlik nutteloos is, sal geen stokperdjie werklik vir haar op die lange duur ‘n blywende impak hê nie.
Dit is vir my belangrik dat sy haar eie waarde in haar hart besef en aanvaar en vertrou. Wanneer dit van binne af ‘n gegewe is, gaan sy nie sommer maklik nutteloos voel nie. Ander mense se kommentaar en opinies speel ook natuurlik ‘n rol. En wanneer sy haar eie waarde besef en vertrou, gaan hierdie kommentaar makliker soos water van ‘n eend se rug kan rol, as wanneer sy ook self daarin tweifel. Dit is waar berading ook van groot waarde kan wees.
‘n Ander baie oulike idee is om by ‘n ander mamma-groepie soos ‘n Moms ‘n Babes klassie aan te sluit. In my opinie dien hierdie klassies veel meer as ondersteuning vir die ma’s as vir stimulasie en ontwikkelling vir die kinders. Dit is werklik ‘n goeie idee om jou op ‘n gereelde basis te omring met mense in soortgelyke posisies. Sodiende kan jy sien en ervaar dat jy nie alleen in jou tweifel sit nie, dat ander ma’s ook soms voel en dink wat jy voel en dink.
10. Wat kan ’n beroepsvrou doen wat skuldgevoelens beleef omdat sy nie altyd daar is vir haar kinders se sportwedstryde en mylpale nie?
Wat ek graag wil hê beroepsmammas moet weet is – daar is nie ‘n ding soos die perfekte ma nie. So ‘n persoon bestaan nie, ons is almal mens en per definisie maak dit ons alles behalwe perfek. Daarom is jou beste werklik goed genoeg.
Hierdie stelling geld of jy nou by die huis is saam met jou kinders en of jy van 8h00 tot 17h00 werk elke dag. Die feit dat jy bekommerd is oor jou kinders, die feit dat jy graag by die wedstryd wou wees en slegvoel daaroor dat jy dit nie kon maak nie, maak alklaar van jou ‘n goeie mamma. In my beroep sien mens ook ongelukkig die slegte kant van die lewe en ek werk soms maar met mense wat eintlik nie die term “ouer” werd is nie. Ouers wat werklik nie minder kon omgee nie, ouers wat uit gereiflikheidshalwe kinders op naskole of “nannies” afsmeer. Ouers wat eintlik as’t ware ervaar dat hul kinders in die pad is.
Indien jy skuld gevoelens oor jou kinders ervaar val jy verseker nie in hierdie kategorie nie! Jy as mamma, wil net soos enige ander goeie mamma vir jou kinders die beste hê. En in jou geval beteken dit dalk dat jy ‘n voldag moet werk sodat julle finansieel kop bo water kan hou, of sodat julle die buitemuurs en die skoolfonds kan bekostig of vir ‘n goeie universiteit kan spaar.
Maar selfs al werk jy bloot omdat jy as individu die stimulasie nodig het, wil ek graag hê jy moet hoor dat dit ook goed is.
Daar is mamma’s wat heeldag tuis is en uit frustrasie, uitputting en moedeloosheid hul kinders soms heeldag verskree. Of gladnie meer die vermoe het om kwaliteit tyd wat vir beide positief en opgeruimd is te kan skep saam met hul kinders nie.
As jy as mamma die vermoe het om op ‘n daaglikse basis by jou kind uit te kom en te connect. As jy totaal kan “present” wees in daardie oomblikke en jou kind se emosionele emmertjie kan volmaak deur om die boodskap te gee dat hy/sy vir jou kosbaar en belangrik is, dat jy belangstel en omgee… as jy wel by ‘n wedstryd kan uitkom elke nou en dan, doen jy alklaar n fantastiese job!
11. Watter rol speel jou man in die keuse van die rol wat jy beklee? As jy byvoorbeeld ’n beroepsvrou is. Moet hy ooreenkom om sy deel te doen met die versorging van die kinders? Of as jy byvoorbeeld ’n huisvrou is moet daar saam besluit word of sy salaris genoeg sal wees om die huishouding te onderhou?
Jong, samewerking en ooreenstemming in ‘n huwelik is kardinaal. Om gelukkig getroud te wees is harde werk; dit kom verseker nie net vanself nie en ouerskap is nie vir sissies nie; dis tough. Man en vrou moet kan saamwerk en mekaar in hul rolle kan ondersteun. In enige huwelik is gesonde en effektiewe kommuniaksie van uiterse belang. Wanneer ‘n paartjie die vermoe het om hul bekommernisse, hul frustrasies en hul behoeftes in ‘n veilige omgewing te kan kommunikeer, is enige iets eintlik vir hulle moontlik. Wanneer ek werklik voel dat my lewensmaat my hart hoor en wanneer ek ervaar dat wat ek voel, dink en ervaar ook vir hom/haar belangrik is, kan ons as paartjie enige moeilike situasie saam aanpak.
Wanneer dit dan by tuisbly of werkende mamma besluite kom, is dit ook geen uitsondering nie.
12. Indien jy ’n verandering in jou lewe wil maak en jy byvoorbeeld as huisvrou ’n beroepsvrou wil word. Was sou jy sê is ’n goeie “check list” om na te gaan oor goed wat jy moet oorweeg.
Maak eerstens seker van jou motivering vir die skuif, aangesien dit die rigting gaan bepaal waarin jy beweeg. Wil jy eintlik net bietjie meer tyd vir jouself hê, indien wel, kan jy dit dalk op ‘n ander manier bekom. Het julle die ekstra inkomste nodig of wil jy graag maar bloot net die stimulasie en uitdagings beleef en ervaar.
Antwoorde op die bogenomede sal bepalende faktore wees wanneer dit by dinge soos byvoorbeeld werksure, – verantwooderlikhede en salaris kom.
Dinge om in ag te neem is:
Afhangende van jou kinders se skooltye, ouderdomme en buitemuurse aktiwiteite, is daar sekere behoeftes waaraan iemand dalk in die oggende en/of naskool sal moet voldoen.
Opsies om te oorweeg afhangende van die ouderdomme en behoeftes is kleuterskole, dagsorgsentrums, ‘n inbly huishulp of ‘n aupair, ‘n naskool of ‘n ouma/familielid. Maw, wie gaan na my kinders kyk en omsien, wie gaan hulle rondry indien nodig, wanneer ek nie gaan kan nie.
Die huishoudelike take is ook iets om nie te vergeet nie. Wie gaan skoonmaak, wasgoed was en stryk?
Het ek opsies wanneer my kind siek is en nie kan skooltoe gaan nie?
Is die salaris, die moeite werd; maw voel ek ek word genoeg vergoed vir die tyd en die effort wat ek gaan moet insit en gaan hierdie salaris die nodige finansiele verligting bring?
Is die posisie een waarin ek kan groei en ontwikkel of gaan ek later hier ook voel ek stagneer en die eendag vloei maar net oor in presies dieselfde, eentonige, volgende dag in?
Kortlis kom dit maar eintlik op die volgende neer:
Wat gee ek prys om te gaan werk en wat gaan ek wen deur om te gaan werk en het ek oortuiging in my hart dat die keuse wat ek maak die regte een is. Na so ‘n oefening, as jy vrede in jou hart het met jou keuse, is dit meesal die regte besluit.