Wat bring ‘n kind na spelterapie? Hierdie vraag word dikwels geantwoord met “sy is meer emosioneel, of emosioneel onstabiel; sy sukkel met aanpassing by die skool/huis; sy is aggresief of teruggetokke, sy ervaar emosionele uitbarstings; sy het trauma ervaar, sy reageer uit na die egskeiding van haar ouers ens.” Hierdie gedragpatrone is dikwels simptome of reaksies van onverwerkte emosies in ‘n kind. Veral ons jonger kindertjies beskik nog nie oor die woordeskat om te kan sê: “ Mamma, ek is oorweldig en kort en breuk nie” of “mamma, hierdie situasie is te moeilik vir my, en ek sukkel om my emosies te beheer nie”. Oorweldige emosies manifesteer baie dikwels in die bogenoemde “simptome” – tantrums, uitbarsings, meer emosioneel en teruggetrokke as altyd.
Maar hoe gee ek my kind dan die geleentheid om hierdie moeilike emosies uit te druk? Die antwoord is baie maklik: wat kan ‘n kind die beste doen? SPEEL!
Spel word gesien as die universiele taal van kinders, afgesien van etiese herkoms, agtergrond of sosio-ekonomiese geskiedenis. Spel oftewel “speel” word beskou as kinders se woorde, kinders gebruik spel in dieselfde manier as wat volwassenes woorde gebruik. Dikwels speel kinders hul probleme of emosies op ‘n simboliese manier uit, om sodoende hulself uit te druk.
Spelterapie is dus ‘n terapeutiese benadering waar daar van speltegnieke gebruik maak om vir die kind “woorde” te gee om hom/haarself uit te druk. Speltegnieke kan enige iets van poppe, stories, klei, sandspel, kunsmateriaal en rollespel insluit. Spelterapie gee dus vir die kind die geleentheid om hom/haarself uit te druk, en dus ‘n genesings proses te fasiliteer. Gedurende spelterapie word daar ook aandag gegee aan die terapeutiese verhouding tussen die terapeut en kind. ‘n Sekure terapeutiese verhouding lê die fondasie vir spelterapie, wat ‘n veilige en gemaklike omgewing vir genesing skep.
Die spelterapie proses word bepaal deur die spesifieke teoretiese benadering. Gestalt Spelterapie fokus op die holistiese funskionering van die kind, en volle kontakmaking met die self en ander. Gedurende spelterapie sessies word daar aandag gegee aan die bou van ‘n sterk en sekure terapeutiese verhouding (die fondament van die terapeutiese proses), emosionele en sensoriese bewusmaking, die ontwikkeling van die kind se “eie ek”, die hantering van onverwerkte emosies en trauma, en verdere hantering van ontoepaslike gedrag. Die duur van die terapeutiese proses hang van die kind se tempo af, wat beinvled word deur verskeie faktore soos temperament, ouderdom, binding asook vlak van trauma ens.
Die ontwikkeling van die terapeutiese verhouding is die boustene van die terapeutiese proses. Voor enige emosionele kwessies aangespreek word, word aandag gegee aan hierdie aspek. ‘n Kind moet kan veilig voel in die teenwoordigheid van die terapeut, asook in die speelkamer vir hom/haar om sodoende emosies aan te spreek. ‘n Verskeidenhied speletjies word gespeel wat die terapeutiese omgewing pret maak vir die kind, om hierdie proses te fasiliteer.
Sensoriese en emosionele bewusmaking is die volgende deel van die terapeutiese proses. Kinders se sensoriese geheue begin reeds ontwikkel voor geboorte, en dit is dus belangrik dat die aspek tydens spelterapie gestimuleer moet word om bewustheid en onverwerkte emosiosies aan te spreek. Die stimulasie vind weereens deur speletjies en prettige aktiwiteite plaas wat die kind se hele liggaam asook al sy sintuie insluit.
Ten einde die kind te help om onverwerkte emosies uit te druk en aan te spreek, is dit nodig om sy/haar emosionele bewustheid ook te ontwikkel. Hier word aandag gegee aan die identifisering van emosies, toepaslike voorbeelde of redes vir emosies en die toepassing van emosies op sy/haar eie lewe.
Verder word die kind se “eie ek” of sin van self ook versterk, om ten einde sterk genoeg te wees om emosies te kan eien en verwerk. Dikwels kom daar weerstand voor indien die kind nog nie sterk genoeg is om hierdie moeilike emosies aan te spreek en verwerk nie. Tydens spelsessies met kinders word daar geleenthede geskep waar die kinders planne moet maak en ook leiding moet neem. Grense en struktuur word geskep in die speelkamer wat veiligheid en voorspelbaarheid skep en sodoende die kind help om binne gesonde grense te speel.
Gedurende die spelterapie proses word die kind dus die geleentheid gegee om onverwerkte emosies op ‘n veilige en ouderdomvanpaste manier uit te druk en aan te spreek, waarna katarsis bereik kan word. Projektiewe aktiwiteite word gebruik om hierdie proses te fasiliteer. Kinders voel dikwels meer gemaklik om emosies in ‘n projeksie (bv ‘n storie of ‘n prentjie) aan te spreek. Deur die bewusmaking proses, word onvanpaste gedrag ook aangespreek deur middel van speltegnieke.
Tydens die intervensie met kinders is die betrokkenheid en samewerking van die kind se ouers baie belangrik. Gereelde terugvoer, met die kind se toestemming naturlik, word aan ouers deurgegee om hande te vat en dit wat in die speelkamer aangespreek was, verder by die huis te beklemtoon en oefen. Ouers word gelei om gesonde grense, struktuur, roetine en voorspelbaarheid in hul kind se lewe te skep, wat die genesingsproses verder by die huis fasiliteer.
“In play therapy toys are like the child’s words, and play is the child’s language” – Dr Gary Landreth
“You can discover more about a person in an hour of play than in a year of conversation” – Plato