In my eerste artikel het ek belangrike aspekte rakende baba’s bespreek. In hierdie artikel wil ek graag belangrike aspekte en mylpale van kleuters met julle deel. Die kleuter jare strek van twee tot ses jaar oud en staan as die pre-operasionele fase bekend. Hierdie tydperk word gekenmerk deur talle veranderinge in jou kind se gedrag en vermoëns.
Kleuters kan al begin dink en probleme oplos. Hulle kan egter nog nie logies dink nie en sal soms dieselfde gedrag herhaal ten einde te kyk wat gebeur. Jou kleuter is dus nie noodwendig stout as hy jou hele kas uitpak, of jou telefoon in die bad gooi nie. Hy is nuuskierig en wil bloot sien wat gebeur as hy dit doen. Kleuters se vermoë tot oorsaak-gevolg denke is baie beperk – dit is dus vir hulle moeilik om soms uitkomste te voorspel.
Daar is ‘n baie spesifieke rede waarom daar na die kleuter jare as die “terrible two’s and three’s” verwys word. Wanneer ek aan ‘n kleuter dink, kom twee stellings sterk na vore: “Nee” en “ek wil self”. Gedurende hierdie fase begin jou kind sy taalvaardighede, geheue en verbeelding te ontwikkel. Jou kleuter begin ook agter te kom dat hy beheer oor sy liggaamsfunksies het. ‘n Belangrike taak tydens die kleuter jare is “potty training” – dit dra by tot jou kleuter se gevoel van beheer en dit kan na talle probleme lei as dit nie reg hanteer word nie. Wees uiters geduldig met jou kleuter tydens hierdie taak!
Alhoewel jou kleuter nie alle take self kan doen nie, is dit steeds nodig vir hulle om ‘n sin van onafhanklikheid en beheer te ontwikkel. Dit is dus die ideale tyd om te begin om jou kind te leer keuses maak. Wanneer jou kleuter ouderdomsgepaste keuses kan bemeester, kry sy oorsaak-gevolg denke ‘n hup stoot en jou kleuter voel dat hy meer beheer het. Dit kan soms onnodige oorlog vermei en jou kleuter kan begin leer hoe om verantwoordelikheid te neem.
As ‘n spelterapeut is dit vir my belangrik om kinders se ontwikkelingsfase tydens terapie in ag te neem. Alhoewel kleuters beperkte emosionele vermoëns het, beskik hulle oor die vermoë om deur spel, gedrag te versterk en ook om deur middel van spel trauma te verwerk.
‘n Kleuter se spel begin baie selfgesentreerd en word later meer sosiaal soos hulle met ander kinders in interaksie tree. Dit is dus nie vreemd as jou kleuter op sy eie kan speel en met homself praat nie. Kleuters wat op hulle eie kan speel het in teen deel ‘n sterker sin van self en kan vir tydperkte, sonder angs, van sy ouers skei. Vanaf ongeveer drie jaar oud, begin kleuters se spel meer sosio-dramaties raak, wat beteken dat hulle sosiale rolle (soos gesinsrolle) kan uitspeel. Ek het al lekker gelag vir die stories wat kleuters kan opmaak en die sosiale mannerismes wat hulle uitspeel – ek weet vir ouers kan hierdie nogals vernederend wees.
Wat hier egter in ag geneem moet word is dat kleuters ook die vermoë het om van een situasie na ‘n ander te redeneer wat niks met mekaar te doen het nie. ‘n Mens moet dus versigtig wees hoe ernstig jy die stories wat hulle vir jou vertel opneem. Ongeveer van vier jaar oud behoort hulle die verskil tussen fantasie en realiteit te verstaan – alhoewel hulle baie vining verward kan raak. Hierdie “denk fout” is ook waarom jong kinders glo dat dit hulle skuld is as daar iets slegs gebeur: “ek was stout, toe gaan oupa dood”.
‘n Volgende belangrike aspek van kleuters is dat hulle optrede en gedagtes baie egosentries is – “alles gaan oor my” – goed of sleg. Kleuters dink ook dat alle mense die wêreld soos hulle beleef – hulle besef nie dat daar ander perspektiewe en waarhede kan wees nie. Egosentrisme dra by daartoe dat kleuters baie moeilik kan wees. Hulle glo dat almal dink soos hulle dink en weet wat hulle weet – soos hulle ouer word en meer sosialiseer verminder hulle egosentriese denke. Aangesien kleuters egosentries is, kan hulle ook soms sukkel met impuls-beheer – “ek soek nou daardie speel dink, ek slaan my maatjie om dit te kry”. Hier is waar dissipliene ‘n belangrike rol speel – jou kleuter gaan nie weet sekere gedrag is onaanvaarbaar as jy dit nie vir hom leer nie. Grense, struktuur en voorspelbaarheid is ook belangrik.
Aangesien kleuters oor beperkte kognitiewe en emosionele vermoens beskik, is daar abstrakte konsepte soos dood, tyd en liefde wat hulle glad nie verstaan nie. Kleuters het beperkte insig van tyd en kan baie deurmekaar raak – dis hier ‘n goeie idee om ‘n konkrete hulpmiddel soos ‘n kalender of n beloningskaart te gebruik. Konkrete hulpmiddels help jou kleuter om abstakte konsepte meer “vatbaar” te maak. Dit kan jou ook help om reels op te stel en straf toe te pas.
Kinders in hierdie fase en spelterapie – ek kry gereeld navrae oor wanneer dit ‘n goeie tyd is om ‘n kind vir spelterapie te bring. Dit is ‘n moeilike vraag om te beantwoord aangesien dit af hang van die kind se vermoë om homself uit te druk – verbaal of simbolies. Sommige spelterapeute sien kinders van so jonk soos twee jaar, ander verkies hulle bietjie ouer. Ek maak gewoontlik staat op ‘n oueronderhoud ten einde te besluit of die kind sal baat by spelterapie of nie. Kleuters kan egter by spelterapie betrek word aangesien hulle vermoë om hulself verbaal uit te druk beter is. Terapie kan ook help om foutiewe persepsies (weens die kind se egosentriese denke) reg te stel. Kleuters het egter ‘n kort konsentrasie span wat in gedagte gehou moet word.
Ter samevatting moet ek deel dat kleuters ongelooflike energie het om te leer. Hulle breintjies is soos ‘n spons wat alles waarneem. Die wêreld is ongelooflik nuut en interesant vir ‘n kleuter – alles is WOW. Ongelukkig saam met die energie kom ‘n sterk wil om onafhanklik te wees – leer vir jou kleuter dat hy sommige take self kan doen, maar dat hy soms hulp gaan nodig hê. Leer ook vir jou kleuter wat om van die wêreld te verwag en ook wat van hom verwag word – ouderdomsgepaste keuses en beheer is belangrik. Vat jou tyd met “potty training” en wees geduldig met jou kleuter. Ongeduldige ouers skep angstige kinders – onthou dit.
“Grown-ups never understand anything by themselves, and it is tiresome for children to be always and forever explaining things to them”
Antoine de Saint-Exupéry